Die Terracottaleër (vereenvoudigde Chinees: 兵馬俑, tradisionele Chinees: 兵马俑, "Soldaat-en-perd-begrafnisbeelde") is ’n versameling beelde van terracotta wat die leër van Qin Shi Huang, die eerste keiser van China, uitbeeld. Dit is ’n vorm van begrafniskuns wat in 210 tot 209 v.C. saam met die keiser begrawe is om hom in die hiernamaals te beskerm.
Die figure is in 1974 deur plaaslike boere in Xi'an, in die provinsie Shaanxi, ontdek. Hulle wissel in hoogte volgens hul rol – die hoogstes is die generaals. Die figure sluit soldate, strydwaens en perde in. Volgens ramings in 2007 bevat die drie putte met die Terracottaleër meer as 8 000 soldate, 130 strydwaens en 670 perde. Die meeste is nog in die Qin Shi Huang-mausoleum begrawe. Ander, niemilitêre beelde is in ander putte ontdek; dit sluit hofamptenare, akrobate, atlete en musikante in.
- ...lees verder
|
Diederik Johannes Opperman (1914–1985) was 'n professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. As Afrikaanse digter en dramaturg verower hy die Hertzogprys vir beide poësie en drama.
Reeds op laerskool skryf Dirk gedigte in Engels en van sy gedigte verskyn later in die skooljaarblaaie. Nog voor die einde van sy matriekjaar stel hy ’n manuskrip saam van gedigte wat hy tot in daardie stadium geskryf het. Hy neem dit vroeg in 1935 na G.S. Nienaber vir kommentaar, wat die gedigte vriendelik bespreek en hom aanmoedig om voort te gaan.
Op 7 September 1934 verskyn sy eerste gepubliseerde stuk in Die Huisgenoot. Dit is ’n kortverhaal wat teen ’n Zoeloe-agtergrond afspeel, getiteld Die reënoffer, wat hy skryf in sy skooljare te Vryheid. Sy eerste gepubliseerde gedig, Seepbelle blaas, verskyn in 1935 in die Natal University College Magazine en hy verower hiermee die prys as beste bydrae van ’n eerstejaar.
Ander verse soos My boeke, Daeraad, Die sweet des aanskyns, Stadsaand, Die vallei, Eros, Somerreëns, Bacchanalieë, Drif en In die tuin verskyn ook in hierdie tydskrif, asook ’n opstel oor Die broers Karamazov: Dostojevski. Verder publiseer hy bydraes in The Natal Witness en Die Saamwerk (onder redaksie van G.S. Nienaber) en die prysbekroonde gedig Soekend verskyn in Junie 1936 onder die skuilnaam Soeker in laasgenoemde publikasie. Ander gedigte in Die Saamwerk sluit in Op die rivier en Gemis, terwyl hy ook boekresensies en artikels soos Letterkundige kritiek hierin publiseer.
Later werk hy ook mee aan Die Natalse Afrikaner en lewer vir hierdie publikasie gedigte soos Plantasie-lied, Die maan oor die see en Na-doodse gebed, die kortverhaal Die maalklip en die transkripsie van ’n aantal minnebriewe van Zoeloes. Reeds in 1937 voltooi hy onder aanmoediging van G.S. Nienaber sy eerste bundel gedigte, Opwaartse drif, maar dit word deur die Volksblad-boekhandel vir publikasie afgekeur. Nog ’n manuskrip gedigte word deur J.L. van Schaik afgekeur. In hierdie jare word sy gedigte toenemend ook in Die Huisgenoot geplaas, terwyl hy ook publiseer in die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring.
- ...lees verder
|