Gaan na inhoud

Kwasi-ster

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n Vergelyking in die grootte van 'n hipotetiese kwasi-ster en van die grootste sterre bekend.
'n Kwasi-ster soos geskep met Celestia.

'n Kwasi-ster of swartkolkster is 'n hipotetiese soort swaar, helder ster wat in die vroeë heelal kon bestaan het. Anders as moderne sterre, wat aangedryf word deur kernfusie in hulle kern, sou 'n kwasi-ster se energie gekom het van materiaal wat in 'n swartkolk in die middel van die ster val.[1]

Vorming en eienskappe

[wysig | wysig bron]

'n Kwasi-ster sou ontstaan het deurdat die kern van 'n groot protoster in 'n swartkolk saamgepers is. Die buitenste lae van die protoster sou 'n groot genoeg massa gehad het om die daaropvolgende uitbarsting van energie te absorbeer sonder om weggeblaas te word of self in die swartkolk te val, soos wat gebeur met moderne supernovas. Die ster sou in dié stadium 'n massa van byna 10 miljoen M (sonmassas) gehad het.[1] Kwasi-sterre sou ook kon vorm uit donkermateriehalo's (tot 100 miljoen M; ter verwysing is die massa van sommige klein sterrestelsels net 5  miljoen M). Die ster sou enorme hoeveelhede gas deur swaartekrag aangetrek het, wat superswaar sterre van tienduisende M sou kon skep.[2][3]

Die vorming van kwasi-sterre sou net vroeg in die ontwikkeling van die heelal kon plaasvind, voordat waterstof en helium deur swaarder elemente besmet is; hulle kon dus baie swaar Populasie III-sterre gewees het. Hulle sou 'n geraamde radius van 40 700 sonradiusse (189 AE) gehad het.[4] Sulke sterre sou Mu Cephei, VV Cephei A en VY Canis Majoris, drie van die grootste moderne sterre bekend, verdwerg het.

Nadat die swartkolk eers in die kern van die protoster gevorm het, sou dit aangehou het om 'n groot hoeveelheid stralingsenergie op te wek uit die inval van stermateriaal. Dié konstante uitbarsting van energie sou 'n teenwig gevorm het vir swaartekrag en 'n ewewig gevorm het soortgelyk aan die ewewig van moderne fusiegebaseerde sterre.[5]

Kwasi-sterre sou vir 'n relatief kort ruk bestaan het: sowat 7 miljoen jaar.[6] In dié tyd sou die kernswartkolk gegroei het tot sowat 1 000 tot 10 000 M;[1][5] daar is al voorgestel dat dié mediumswaar swartkolke die voorlopers kon gewees het van moderne supermassiewe swartkolke soos die een in die middel van die Melkweg.

Kwasi-sterre het na raming 'n oppervlaktemperatuur van meer as 10 000 K (9 700 °C) gehad.[5] Met sulke temperature, en met 'n radius van omtrent dié van die hele Sonnestelsel), sou elkeen omtrent so helder soos 'n klein sterrestelsel gewees het.[1] Wanneer 'n kwasi-ster mettertyd afgekoel het, sou sy buitenste omhulsel deursigtig geword het, en dit sou verder afgekoel het tot 'n beperkende temperatuur van 4 000 K (3 730 °C). Sy grootte sou gegroei het tot dié van 30 Sonnestelsels.[5] Die beperkende temperatuur sou begin van die kwasi-ster se einde gewees het, want laer as dié beperkende temperatuur is daar geen hidrostatiese ewewig nie.[5] Die voorwerp sou daarna vinnig verdwyn en 'n mediumswaar swartkol agtergelaat het.[5]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Battersby, Stephen (29 November 2007). "Biggest black holes may grow inside 'quasistars'". NewScientist.com news service.
  2. Yasemin Saplakoglu (29 September 2017). "Zeroing In on How Supermassive Black Holes Formed". Scientific American. Besoek op 8 April 2019.
  3. Mara Johnson-Goh (20 November 2017). "Cooking up supermassive black holes in the early universe". Astronomy. Besoek op 8 April 2019.
  4. Ball, Warrick H.; Tout, Christopher A.; Żytkow, Anna N.; Eldridge, John J. (1 Julie 2011). "The structure and evolution of quasi-stars: The structure and evolution of quasi-stars". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society (in Engels). 414 (3): 2751–2762. arXiv:1102.5098. Bibcode:2011MNRAS.414.2751B. doi:10.1111/j.1365-2966.2011.18591.x.
  5. 5,0 5,1 5,2 5,3 5,4 5,5 Begelman, Mitch; Rossi, Elena; Armitage, Philip (2008). "Quasi-stars: accreting black holes inside massive envelopes". MNRAS. 387 (4): 1649–1659. arXiv:0711.4078. Bibcode:2008MNRAS.387.1649B. doi:10.1111/j.1365-2966.2008.13344.x. S2CID 12044015.
  6. Schleicher, Dominik R. G.; Palla, Francesco; Ferrara, Andrea; Galli, Daniele; Latif, Muhammad (25 Mei 2013). "Massive black hole factories: Supermassive and quasi-star formation in primordial halos". Astronomy & Astrophysics. 558: A59. arXiv:1305.5923. Bibcode:2013A&A...558A..59S. doi:10.1051/0004-6361/201321949. S2CID 119197147.

Skakels

[wysig | wysig bron]